Archive for the ‘Algemeen’ Category
Kinders in ‘n kroeg (Inskrywing bevat kru taal)
Is dit regtig ʼn goeie idee om julle kinders saam te vat kroeg toe as julle gaan kuier?
Dit is nie die norm nie, maar mens sien nogal gereeld klein kinders, babas en kleuters en tieners wat saam met ma en pa kroeg toe gaan.
Onlangs sien ek weer ma en pa kuier lekker en die baba in die stootwaentjie langs die kroegtoonbank slaap rustig onder sy/haar kombersie. Die mense in die kroeg kuier. Hulle drink en gesels en vertel grappe en kyk sport op TV en baie van hulle rook. Dit is ʼn lekker sonskyndag en dit is warm. Die waaiers wat teen die mure gemonteer is doen hulle bes, maar die rook hang ligblou in die kroeg. Ek het vir jare lank gerook en weet as mens kuier in ʼn kroeg, rook mens mos baie.
Die tweedehandse rook krap en irriteer my keel, longe, neus en oë. My klere ruik naderhand pure sigaretrook. Ek asem groot hoeveelhede tweedehandse rook in. Die klein babatjie wat in die waentjie lê en slaap natuurlik ook.
Dit is nie net rook in ʼn kroeg wat skadelik is vir kinders nie. Alkohol werk op mense se koppe in. Dit kan hulle hul inhibisies laat verloor, hulle sin vir verantwoordelikheid laat verslap, hulle koördinasie negatief beïnvloed en so meer.
Ek loop eenkeer ʼn oud werkskollega in ʼn kroeg raak. Dit was ʼn hele paar jare sedert ons mekaar laas gesien het, en ek was lekker gekuier en wys hom my tatoeëermerke. Toe begin hy vir my preek dat dit baie sleg is om ʼn tatoeëermerk te hê.
Sy kinders is ook saam met hom en sy vrou daar. Van die kinders nog nie in die skool nie en ander in die laerskool. Dit is ʼn Saterdag en daar is ʼn live band en almal kuier en gaan groot. ʼn Ent weg is iemand besig om kliphard ʼn grap te vertel. Hoe meer mens drink, hoe harder praat mens mos. Ek hoor die woord “doos” ʼn hele paar kere.
Daar is ook ‘n groep wat ʼn bachelor’s party hou daar. Die bachelor dra ʼn opblaaspop orals saam met hom en hy is erg gekettie en maak kort-kort asof hy die pop stoot. Die ouens van die bachelor’s party suip dat die biesies bewe. Die bachelor down een of ander mengsel en toe skree hy kliphard “POEEEEEEEES!!!!!”.
Iemand anders praat oor politiek of werk of iets en die een sê “Nee ek weet nie wie is daai kont nie.”
Ja OK, dit het wild gegaan in daardie spesifieke kroeg, en dis nie in elke kroeg waar mense so vloek en tekere gaan nie, maar die omgewing van ʼn kroeg, waar alkohol bedien word, dink ek nie is geskik vir kinders nie.