“Kom, Oom, dis tyd dat ons gaan.”

Oom Schwenke het gesteurd opgekyk.

Oom Schwenke was ‘n prokureur in die stad. In die dae toe die middestad van Johannesburg nog gelewe het en die sake goed verloop het, toe dit nog die kern van Sui-Afrika se sake was, het Oom Schwenke geklee in ‘n donkerbruin pak, wit hemp en blink gepoleerde swart skoene sy kantoor op die grondvloer in die agterstrate van Johannesburg oopgemaak.

Oom Schwenke het as bloedjong prokureur met sy vlymskerp verstand en byna volmaakte kennis van die Reg vinnig die rande laat inrol en bekend geraak. Sy vaal kantoortjie wat op die binneplaas uitgekyk het, kon hy na ‘n paar jaar verruil het vir een met ‘n asemrowende uitsig oor die mistigheid van die stad.

Hy het homself opgewerk vanaf winkeldiewe en daggarokers tot ‘n prokureur wat jy eenvoudig aan jou kant moes hê indien jy ryk was en jou huwelik in die skeihof se rigting beweeg het.

Sy kasarm van ‘n woonplek in Parktown was altyd met die duurste, dog smaakvolle en eenvoudige meubels uitgerig. Hy was die kenteken van sukses in die lewe wat soms hard en ongenaakbaar kon word in die stad.

Oom Schwenke was gelukkig getroud, en dit is die dat hy so gesteurd opgekyk het toe iemand vir hom sê dis tyd om te gaan. In sy oë was ‘n hartseer verlange.

In die kafee in Melville waar Oom Schwenke gesit het en sy oggend koffie saam met die skindernuus in Beeld geniet het, was hy al ‘n legende. Toe hy as verwaande nat-agter-die-ore mannetjie in die stad begin praktiseer het, het hy dit ‘n punt gemaak om sy dag met ‘n koppie sterk koffie daar te begin. Twee suikers, klein bietjie melk.

Die blik in Oom Schwenke se oë het verander na dankbaarheid en verligting.

Die jong kelnerin het hard gegil toe Oom Schwenke vooroor gesak het, sy voorhoof stukkend geval het op die piering waarin die sny varsgebakte kaaskoek was en die koppie koffie stomend oor die vloer gespat het.

Toe die ambulans opgedaag het, het die mediese ordonnanse net hulle koppe geskud. Oom Schwenke het ‘n massiewe hartaanval gehad en was reeds dood, nog voordat die porseleinskerwe van die piering die vel op sy voorkop oopgekloof het.